Romeinse kuns

Nadat Rome, oorspronklik 'n Italiese stadjie wat lank onder die politieke en kulturele beheer van die Etruskers was, in 500 v.C. onafhanklik geword het, het die Romeine in die eerste eeue daarna meer tyd en aandag bestee aan die handhawing en uitbouing van hulle nuwe selfstandigheid as aan die ontwikkeling van die beeldende kuns.

Die toestand het egter in die loop van die 3de eeu v.C. verander, eers deur die onderwerping van die Griekse kolonies in Suid-Italië (Magna Graecia), en later vanweë die magsuitbreiding ooswaarts na die Hellenistiese wêreld: Griekeland self, Klein-Asië en Egipte. Dit in ag genome is die Romeinse kuns vroeër bloot as 'n uitloper of nabloei van die Hellenisme beskou. Dit is egter beslis te simplisties gestel, want hoewel die Griekse invloed sterk was en baie van die kunstenaars in die Romeinse tyd Grieke was, het die Romeine daarin geslaag om die Grieks-Hellenistiese elemente met hulle inheemse Italo-Etruskiese kern te vermeng.

In die proses het die Romeine nuwe aspekte beklemtoon en nuwe moontlikhede ontdek en uitgebou. Die boukuns verteenwoordig die Romeine se belangrikste prestasies op kunsgebied.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne